Torcello (Latyn: Torcellum, Venesiaans: Torceło) is 'n yl bevolkte eiland met 'n oppervlakte van 44,17 hektaar, geleë in die noorde van die Venesiaanse strandmeer naby die eilande Mazzorbo en Burano, en sowat 10 km noord van Venesië se Piazza San Marco (Sint Markusplein). Na hierdie gebied word verwys as laguna morta of "dooie strandmeer" omrede dit nie meer deur die Adriatiese See se getye geraak word nie. In November 2018 was daar nog dertien permanente bewoners na wie in Italiaans as torcellani verwys word.
Torcello is van historiese en argitektoniese belang as die vroegste nedersetting wat in die tyd van die Hunne-invalle in 452 deur vlugtelinge van die vasteland in die Venesiaanse strandmeer gevestig is. As sulks word dit as die bakermat van Venesië beskou. In 638 het die biskop van Altinum, destyds die grootste Romeinse nedersetting op die vasteland, saam met talle bewoners sy toevlug op Torcello gevind. Nog in die 10de eeu was Torcello met 'n bevolking, wat op tussen 10 000 en 20 000 beraam word, merkbaar groter as die nabygeleë Venesië. In die 12de eeu het die eiland geleidelik in 'n moerasgebied begin verander waar malaria 'n konstante bedreiging ingehou het. Die bewoners het hulle merendeels op die eiland Murano of in Venesië (op die destydse eiland Rialto) hervestig.
Net enkele sakrale geboue - die katedraal, kerke en kloosters - het bewaar gebly. Die eiland word tans grotendeels deur groentetuine beslaan.